Foto: ’n Oomblik vanuit episode nege
Enigiemand kan sien waar die idee vir hierdie episode vandaan kom. Weerwolwe is baie gewild in Europese volksverhale, en het saamgereis na Noord-Amerika, en tot op die stel van ’n reeks soos Twilight. Maar daar is nie wolwe in Afrika nie.
Wat daar wel in Afrika is, is ’n dier wat my banger maak as ’n wolf. Dalk oor sy hang-gat en grynslag: Hiënas. “Weer-hiëna” sê nou nie so lekker soos “weerwolf” nie, maar die idee is nog meer vreesaanjaend.
In my navorsing sien ek toe daar is al so iets. Die storie van die “weer-hiëna” kom van oos-Afrika af: Van Tanzanië tot in Ethiopië – hulle noem dit daar die “bouda”. Dit word veral geassosieer met ystersmede of mense wat fyn werk met hulle hande doen.
Ons wou graag ’n episode doen wat ook dieper in Afrika inkyk as die ander, na die monsters en gedrogte waarvan mens verder noord hoor. Ek wou dit egter ook toeganklik en vermaaklik maak vir ’n Afrikaanse gehoor. My antwoord was die verfynde Marthinus met sy Jan Alleman-bure. Soos ek skryf, kom ek toe agter: Hierdie episode is komedie. Dis moeilik genoeg om stories uit te dink: As die teks homself begin skryf, staan terug en kyk.
LEES OOK: ‘MET DIE HELM GEBORE’
Mense is altyd verbaas as ek vir hulle sê Die Spreeus is nog besig om gemaak te word terwyl dit reeds uitsaai. Episode 12 is op die oomblik in die werkswinkel. Dis eintlik nie so verrassend nie: As jy dink dat ons die ekwivalent van sewe films maak, en in Februarie klaar verfilm het, dan is dit logies.
Dit beteken wel harde werk. Leon Visser van Kin Media doen ons redigering en grading (kleur-redigering), ’n kuns wat min mense buite die bedryf verstaan. Mense kan aanvoel as dit vrot gedoen is, sonder om noodwendig te verstaan waar die fout lê. Die teenoorgestelde is nie waar nie – redigeerders word selde (buite die bedryf) geprys as hulle uitstekende werk doen.
Plaaslik sien ons byvoorbeeld min aksietonele of car chases, want om dit goed te laat lyk, moet jy ’n reuse klomp kamerahoeke skiet en dae bestee om ’n enkele toneel te redigeer. Skrywers moet dus “skryf vir TV”, en dit behels allerhande tricks. Ek het al gehoor sommige skrywers beweer jy kan ’n 48-minuut episode met so min as 24 tonele doen. Dit is seker moontlik, maar elke storie vereis ’n ander benadering.
Met daardie agtergrond: “Sonde met die bure” het 78 tonele. Dit het ook ’n hele paar aksietonele, spesiale effekte, ’n shootout aan die einde en ’n ondier met gloeiende oë. Punt is: Ek haal my hoed af vir Leon Visser.
Paaseier vir die week: Die gedig wat Joanie Combrinck se karakter voorlees, is S.J. Pretorius se Die kranksinnige. Dis ’n ou gedig (1948) wat kykers dalk uit skoolsillabusse ken – volgens baie letterkundiges was hy voor sy tyd.
Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op Facebook, Twitter en Instagram. Kliek hier vir meer inligting.