web uni tv guide
Kokkedoor Vuur & Vlam
web uni tv guide

Kokkedoor: Vuur en Vlam

144Realiteit13 L

Hitte met Herman: Varktjops met koffie  – Kokkedoor Vuur & Vlam

Nuus
28 September 2023
Varktjops met koffie is ‘n heerlike manier om die gewone tjop op te kikker by jou volgende braai.
Varktjops met koffie artikel image

Hierdie droë vryfmengsel smeer jy in jou varktjops in voor jy dit stadig oor warm kole gaarmaak. Vra jou slagter om die tjops met die bene lank te sny – dit lyk regtig indrukwekkend by enige braai.

Genoeg vir 6

Wat jy benodig: 

40 ml kitskoffie

10 ml varsgemaalde swartpeper

5 ml sout

40 ml bruinsuiker

10 ml knoffelpoeier

10 ml droë origanum

10 ml droë tiemie

10 ml droë salie

5 ml neutmuskaat

6 varktjops (tomahawk-styl)

60 ml botter, in blokkies gesny

kole of hout vir braai

Hoe jy dit doen: 

Meng koffie, peper, sout, suiker, knoffelpoeier, kruie en neutmuskaat. Smeer mengsel met jou vingerpunte aan die tjops; maak seker dis oraloor bedek. Plaas tjops in ’n braaibak en laat 2-3 uur in yskas marineer. Kry kole intussen matig warm. Pak tjops langs mekaar met vetkante na onder en steek 3-4 houtkebabstokkies deur die vleis sodat tjops bymekaar bly. Plaas die hele storie met vetkante na onder op ’n rooster, sowat 15 cm bo kole, sodat vet eers uitbraai en lekker bros raak. Trek kebabstokkies uit en draai tjops plat. Braai sowat 8-10 minute aan ’n kant – vark mag maar effens pienk geëet word, so maak seker dat jy dit nie oorgaar braai nie. Haal van hitte af en plaas tjops terug in braaibak. Stip tjops met blokkies botter en maak braaibak toe. Laat 5 minute staan tot botter gesmelt het. Sit voor met bykos van jou keuse. 

Kyk die video hier bo om te sien presies hoe Herman dié resep voorberei!