Genoeg vir 4-6
Wat jy benodig:
hout of kole vir braai
30 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 cm-stuk vars gemmer
10 ml fyn koljander
10 ml vinkelsaad
2 x 410 g-blikke gekapte tamaties
120 ml perskeblatjang
45 ml suiker
sout en varsgemaalde swartpeper
2 x 410 g-blikke botterbone, gedreineer
600 g boerewors
Hoe jy dit doen:
Maak ’n vuur vir baie warm kole. Verhit ’n middelslagswartpot oor die kole tot warm – ek plaas die pot op ’n braairooster sowat 10 cm van die kole af. Giet olyfolie in pot en voeg uie, knoffel en gemmer by. Roerbraai 1-2 minute of tot uie sag en deurskynend is. Voeg koljander, vinkel, tamatie, blatjang en suiker by en meng. Geur met sout en peper. Verlaag die hitte deur kole weg te krap tot die pot stadig prut. Laat prut sowat 15 minute of tot ’n geurige sous vorm; roer nou en dan. Sodra smoor lekker geurig en gaar is, voeg bone by en plaas wors in ’n spiraal bo-op. Sit pot se deksel op en laat wors in smoor gaar word, sowat 12-15 minute. Onthou om gereeld vars kole onder die pot in te krap sodat dit deurentyd kook. Sit warm voor.
Kyk die video hier bo om te sien presies hoe Herman dié resep voorberei!