Foto: Lea Vivier in die tweede episode van Die Spreeus
deur Tertius Kapp
Vir die navorsing vir hierdie episode het ek op fassinerende dinge afgekom.
Byvoorbeeld: die “Lasarusplant” of “Roos van Jerigo” bestaan werklik. Dis ’n plant wat ná jare van fisies dood wees, weer lewend kan word. Dis natuurlik nie in die oorspronklike storie nie, maar ek het gewonder – wat as Emmie alles in haar mag gedoen het om Petrus se lewe te red, en toe, deur haar gekonkel met die lewe en die dood, haarself in die gevaar gestel het?
Iets meer terloops, is wanneer Bas aan die begin vermoed dat Petrus dissosiatief is (’n “gesplete persoonlikheid” het). Hy noem vir Beatrice die geval van “B.T.”, ’n Duitse vrou. Sy bestaan ook werklik, en haar storie is verstommend.
As jong vrou het ’n traumatiese ongeluk haar blind gelaat. Sewentien jaar later is sy by ’n sielkundige vir behandeling – sy het tien verskillende persoonlikhede. Sommige praat Duits, ander Engels.
Een van “B.T.” se persoonlikhede is ’n tienerseun, en met hom gebeur iets ongeloofliks: hy begin sien. Met verdere terapie herwin al haar persoonlikhede behalwe twee hulle sig, en “B.T.” het ook goed herstel van haar dissosiasie (maar nie volledig nie).
Met haar oë self was daar nooit enigiets fout nie.
Die gevolgtrekkings hiervan is ongelooflik. Die verskillende persoonlikhede het só in haar brein gefunksioneer dat die inligting van die oë af apart verwerk. In Beatrice se woorde: “Soos ’n dual operating system” (as ’n mens twee bedryfstelsels op een fisiese rekenaar het). Met ander woorde, die skeiding tussen die persoonlikhede is nie net op ’n hoë vlak nie – dit gaan tot op die basis van wie sy is.
’n Mens kan sien hoekom so iets tradisioneel as besetenheid gesien word. Dis ’n konsep wat ons nie regtig kan verstaan nie, omdat ons geen raamwerk het waarbinne dit sin maak nie (’n probleem wat mense dikwels ook met kwantumfisika en relatiwiteitsteorie het).
Langenhoven vat die idee bietjie verder – ’n dooie se gees neem ’n lewende liggaam oor. Sy storie is romanties en geheimsinnig – die riller-element wat ons daaruit put, is meestal bygelas.
LEES OOK: DIE BOUVAL OP WILGERDAL (DEEL 1)
Daar is ook die idee dat spoke mettertyd al meer mag kry: eers net ’n stem, dan goed wat beweeg, ensovoorts totdat hulle uiteindelik fisies kan verskyn. Ons het hiermee gewerk, sodat die twee episodes opbou na ’n romantiese einde soos Langenhoven dit ook gehad het. Dit was Wim (van der Merwe – spesiale effekte) se idee om Petrus sy liggaam te laat “herskep” uit die swewende kole.
KYK OOK: ‘NIE GEWONE KRIMINELE’
Moenie ’n oomblik van die spanning misloop nie. Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op Facebook, Twitter en Instagram, en laat weet ons of jy bang is. Kliek hier vir meer inligting.