Wat dink jy is Deon se sterk en swak punte?
Sy sterk punte is sy passie vir wat hy doen en sy vasberadenheid om die mens wat vermis is op te spoor, maak nie saak wat nie. Dis vir hom belangrik omdat hy weet hoe belangrik dit vir die familie is. Sy swak punte? Hy is swart en wit en sukkel om buite die reëls te beweeg wat beteken hy maak die lewe vir homself soms moeilik. Emosies is ook nie sy sterk punt nie. Enige plek waar dinge te emosioneel raak, raak hy ongemaklik.
Wat van die karakter geniet jy die meeste?
Ek geniet die feit dat hy dit wat hy doen so ernstig opvat. Ek is nie ’n ernstige mens nie, vat nie die lewe so ernstig op en probeer regtig om die lewe ten volle te geniet en die beste in alles te sien. Maar ek is baie passievol oor wat ek doen vir ’n lewe, om stories te vertel en veral om werk te skep. Daardie passie wat ek het, kom ook deur in Deon. Dis nie net vir hom ’n werk nie, nie net ’n salaristjek aan die einde van die maand nie. Hy is dalk baie ernstig oor die lewe, maar daardie was ’n goeie kontakpunt tussen my en die karakter – die passie vir wat hy doen.
Hierdie is die tweede seisoen. Is julle hoofspelers al soos familie?
Ja, dit het soos ’n reünie gevoel toe ons mekaar weer op die stel gesien het. Daar was ‘n groot gaping tussen die skiet en uitsaai van die eerste reeks en toe ons hoor ons gaan ’n tweede reeks doen. Ons het almal gemaklik in ons rolle geval. Om almal weer te sien was ontsaglik lekker en dit het die skedule en omstandighede wat nie altyd so great was nie, makliker gemaak. Enige projek is net duisend maal beter as jy regtig kliek en vriende raak en omgee vir die mense wat saam met jou speel.
Wat kan kykers van die res van die reeks verwag?
Ek kan nie te veel weggee nie, maar die groot vraag op almal se lippe is: waar is Dina? Met die eerste reeks het die span so naby gekom en hulle het gedink hulle het haar gekry. Mens sien op hierdie stadium nog nie soveel daarvan in die tweede reeks nie, maar wat ek vir kykers kan sê is die storie rondom Dina gaan ’n baie groter rol begin speel.
Waarmee is jy die res van die jaar besig?
Hopelik baie besig. Ons is besig met drie, selfs vier, films wat ons bymekaar sit, maar soos ons altyd sê – niks is vas tot die kameras begin rol nie. As alles goed gaan en al die legkaartstukkies val in plek, dan gaan die jaar redelik mal raak van so Mei, Junie se kant af. Ons probeer werklik om werk te skep.
Wat is altyd op jou bedkassie?
Altyd ’n boek. Hoofsaaklik fiksie, maar ek het die afgelope tyd ook outobiografieë begin lees. Ek het onlangs Will Smith s’n gelees en dis ’n uitstekende boek. Daar was ’n tyd toe die kinders jonger was en hulle ons meer uit die slaap gehou het wat ek minder gelees het, maar deesdae probeer ek elke dag minstens ’n paar bladsye lees.
As jy minister van kuns en kultuur kan wees, wat is die eerste ding wat jy sal doen?
Daar is ‘n redelike lysie, maar ek dink die eerste en heel eenvoudigste ding wat ek sal doen is die volgende. Ek het onlangs met ‘n vriend gepraat en ons het gepraat oor die idee dat Suid-Afrika, soos baie ontwikkelende lande, ’n arm land is. Maar as jy kyk hoeveel geld die afgelope nege jaar verdwyn het in hierdie bodemlose put van korrupsie en wanbesteding, is daar meer as genoeg geld om ’n impak in hierdie land te maak. Kuns en kultuur is deel daarvan. Daar is ’n rede hoekom fasciste altyd die kunstenaars en die intellektueles eerste na die spreekwoordelike brandstapel stuur. Ons het al gesien hoe sport ons lang bymekaar kan bring, maar kuns en kultuur kan dit ook doen. Hoe meer ons kans kry om ons stories te vertel, hoe meer gaan ons sien dat daardie stories saam begin vloei. Dit kan ’n saambindende faktor word.
Die eerste ding wat ek sal doen, is om seker te maak dat die geld wat vir kuns en kultuur gegee word, na die regte plekke toe gaan. Ek dink mense wat in hierdie departemente werk – van munisipale tot nasionale vlak – het nie ’n aanvoeling vir die kunste nie en het nie hulle vinger op die pols nie. Stel mense aan wat weet wat hulle doen en weet hoe om die kunste te gebruik om ’n impak te maak, kreatiwiteit uit te bou en werklik ’n verskil te maak.
Daar is baie ander dinge ook. Soos in Frankryk waar daar ’n heffing op elke fliekkaartjie is en daardie geld gaan aan ’n fonds wat help om onafhanklike films te vervaardig. Mens kan baie kreatief raak om hoe om die kunste te befonds.